My storie oor Mongua soos ervaar deur Lucas van Vuuren (Fires) op 29 Julie 1980. (G Coy 1980, 1 Valskerm Bataljon, OPERASIE SMOKESHELL, 1980).

Geskryf deur Nico Beneke

My naam is Lucas van Vuuren. Of “Fires’, soos al my medemakkers van G-Kompanie 1979/80 my geken het. Ek glo dat my makkers van G-Komp van die beste soldate en paratroopers is en was. Ek skryf hierdie herinnering 39 jaar later soos wat ek dit kan onthou. Dit is ook vir my terapeuties om na al die jare my medemakkers weer te kon opspoor, en hierdie gebeure met hulle te deel, asook aan diegene wat belangstel.

Gedurende my tyd by 1 Valskermbataljon in Bloemfontein was ons in verskeie aksies teen die vyand van die tyd, naamlik SWAPO, in Angola betrokke. Ons altyd na die aksie verwys as `n ‘kontak’. ‘n Kontak is ‘n vreesaanjaende gebeurtenis terugskouend waar ons as soldate voor opgelei was. Ons was jonk en fiks. Valskermsoldate.

In een van die kontakte was ek ernstig gewond en vervolgens deel ek graag my ondervinding.

Die oggend van 29 Julie 1980 het ons beweeg met die Buffel voertuie van Evale na Mongua, beide dorpies in
Angola. Ons was besig om te ontrek uit Angola. Soos wat ons Mongua genader het, het ek verneem daar is groot moeilikheid vorentoe met die C Kompanie wat in die vyand vasgeloop het. In daardie stadium het ons min of geen inligting, en al wat ons kon doen is om met die voertuie vorentoe te jaag en by die geveg betrokke te raak.

Ons het met die Buffels inbeweeg. Die vyandelikke mortiere het weerskante van die voertuie ontplof. Ons
het van die voertuie afgespring en links inbeweeg. C-Komp se voertuie was regs van ons en hulle was iewers vorentoe reeds in die geveg vir ongeveer 20 minute, sou ek skat. Ons het vorentoe beweeg en dadelik geweervuur getrek op ons. Dit is chaos rondom jou. Geweervuur, mortiere en skote wat klap.

In die beweging vorentoe hoor ek iemand skree. Toe ek kyk was dit Dusty, een van my makkers wat raakgeskiet
is. Ek sien Wienand met sy LMG (Ligte Masjien Geweer) by hom buk en help. Ek besef ons is in vir ‘n groot geveg. Ons het seker nog so 50 meter aangebeweeg en op die rand van die oopte, wat in Ovambotaal ‘n Shona genoem word, met bietjie dekking van bosse, gekom. 

Ek was heel links gewees met Piet Kok regs van my toe breek die hel om ons los. Ek sien toe een man van
SWAPO (of soos ek later verneem het FAPLA) agter ‘n boom wat aanmekaar op ons vuur. Ek ‘time’ hom en knyp (skiet) hom. Voor my aan die linkerkant sien ek die vyand is besig om ‘n flank aanval op ons uit te oefen. Hulle is 20 tot 30 meter voor ons en ek kon hoor hoe hulle skree in Portugees op mekaar.

Ons beweeg min en skiet ‘n pad oop. In die beweging hoor ek ‘n voertuig enjin en skielik kom ‘n BTR pantservoertuig uit die bosse uit reg op ons af gepeil. Ek skiet op die voertuig en probeer hom tot stilstand te bring tussen die enjin en voorwiele, maar ek kry nie sy wiel raakgeskiet nie. Die BTR draai om en skiet tussen myself en Piet Kok dat die stof so staan. Ons lê laag en ek probeer om die man wat die masjiengeweer op die BTR beman en op ons vuur, raak te skiet.
Dit is moeilik, want as ek opkom is ek dood. Oral in die bome is snipers wat ons koppe laag hou. In my poging om te bly probeer, gebeur wat elke man vrees.

Ek word raakgeskiet met ‘n AK 47.

Met die skoot wat my tref, slaan my armspiere die R4 geweer dat dit so drie meter voor my op die grond val. Hy slaan my dat ek op my hurke neerval en my hand druk ek agter my vas en val grond toe. Ek kreun en skree van pyn. Piet Kok skree op my dat ek moet stilbly, min wetende dat ek ernstig gewond is. Nico Beneke was net regs van my in daardie stadium en het dekking gegee.

Die koeël het my linkerskouer, vier ribbes, linkerlong, linkernier en die punt van my hart getref. ‘n Stuk skrapnel sit in my hart se punt en in my linker nier vas. Ek voel hoe sak die donker om my en ek weet nie meer wie en wat het my kom help nie. Iemand het my aan my broekspype en voete gesleep … gehardloop en gesleep om hulp. ‘n Dokter
het my daar gehelp. Hy het ‘n gat tussen my ribbes gesteek en ‘n drip afgesny om ‘n dreineerpyp te maak om die bloed te dreineer. Ek kon die verligting voel soos wat die bloed dreineer en ek voel vir ‘n oomblik beter. Ek was wakker en dan is ek weer vir ‘n paar minute uit en bewusteloos.  

Volgende wat ek weer bykom is toe ek op ‘n Buffel gelaai word. Ek lê met my af ribbes op die pyp wat die sitplek vashou – die pyn is oorweldigend. Ek het weer my bewussyn verloor en word wakker in ‘n Puma helikopter oppad. Ek word afgevoer na ‘n hospitaal op Oshakati. Ek kan onthou hoe hulle my deurstoot na die teater en ek verloor weer
my bewussyn. Die pyn is intens. Die volgende keer wat ek weer wakker word vlieg ons in die Flossie C130 vliegtuig met baie gesigte om my; daarna verloor ek weer my bewussyn. Die volgende wat ek wakker word was ek in die ambulans oppad na 1 Militêre Hospitaal. Hulle het my nie vasgemaak nie en die geskud het my moer seer gemaak. My arm was koud. By 1 Mil het die mense ‘n pad oopgemaak en kon onthou hoe stoot hul my deur die gange.  ‘n Groot geboude dokter maak my arm wyd oop en in die pyn skree ek, “sit my uit, sit my uit”. Ek het wakker geword in die ICU eenheid met pompe, pype en drips en masjiene om my. Ek soek net daar die punt van die koeël wat my getref het en ek wys met my vinger na my hart, iets maak baie seer. Ek kan nie praat nie met die pype in my keel.

Ek is later ontslaan en het by Yskor begin werk in 1981. Met my mediese ondersoek het die x-strale gewys die
punt van die koeël sit nog en is nooit verwyder nie. In daardie stadium het dit my nie gepla nie. Ek was okay. Ek het later jare na die Skema op Hartswater verhuis en daar ‘n pos aanvaar. Op ‘n dag terwyl ek bestuur het in 1993 het ek gevoel iets is verkeerd en het begin bloed opbring. Ek het inwendig begin bloei en bykans versmoor in my bloed.
Ek is in Bloemfontein Rosepark hospitaal opgeneem en die koeëlpunt is uit die long verwyder. Die oorsaak van die bloeding was die koeëlpunt wat nooit verwyder is nie en het begin roes en die are is afgesny.

Ek het in 2001 weer ‘n longoperasie gehad waar hulle driekwart van my long verwyder het. Steeds het ek groot probleme met my longe en jaarliks kry ek longontsteking en moet dan hospitaal toe. Nou later jare het ek ‘n senuweeprobleem ontwikkel en is met Parkinsons gediagnoseer. Ek sit so af en toe en kyk na die patroon se punt. Ek wonder soms of die Fapla soldaat nog leef … die bliksem. Hy was ook net ‘n soldaat wat vir sy land geveg het. Wens ek kon hom ontmoet. Dalk is hy in die geveg dood? Wie weet …? 

Die Here dra my elke dag. Ek wil dankie sê aan my G Kompanie makkers wat my die dag daar uitgehaal het en my
lewe gered het. Aan Dokter Badenhorst op Hartswater wat altyd sy hand op my kop gesit en vir my gesê het… “Links is Hartswater pasiënte en regs is Fires Van Vuuren. Ek het grys geword”.

Mooi loop almal – Ek is dankbaar vir die kans in my lewe.

ns. Lucas van Vuuren is oorlede op 4 Januarie 2020.