SAW SOLDATE GEDENKMUUR deur Cerneels Lourens

DIE ONUITROEILIKE HULDE IN GRANIET: SAW SOLDATE GEDENKMUUR 31 MEI 1961 TOT 27 APRIL 1994

MANNE EN VROUE IN GRANIET DEUR MANNE VAN GRANIET

INLEIDING

Op 25 Oktober 2009 is een van die mooiste gedenkmure in die wêreld neffens die Voortrekkermonument onthul.  Hierdie artikel het ten doel om enersyds die “Manne van Graniet” van die dorp Brits en generaal Gert Opperman se rol in die tot stand bring van hierdie gedenkmuur te boekstaaf, maar andersyds is die doel daarvan om die MANNE EN VROUE IN DIE GRANIET en hulle naasbestaandes te huldig en te erken. Voorts is dit om aan al die naasbestaandes, wat diep leed en beproewing deurgegaan het, net te sê: ons onthou.  Ondenkbaar moes die smart en lyding van hulle gewees het: om hulle te vergeet was ‘n klagte teen ons. Ons dink deur middel van hierdie muur altyd aan julle! Ek het gewonder hoe om te sê dankie maar hoe en waarvoor sal jy dankie sê te midde van hierdie beproewinge wat soveel families by oop grafte van ‘n geliefde kind, ouer of eggenoot/te  ervaar het. Die wyse hoe hierdie muur tot stand gekom het, het myns insiens ʼn senuwee van solidariteit aangeraak en ek sluit af met enkele gedagtes oor die Bosoorlog.

Alle lede van die SAW, wat vanaf 31 Mei 1961 tot 27 April 1994 in diens gesterf het, se name is hierop aangebring.  By diegene, wat in gevegsituasies gesneuwel het, se name is ‘n sterretjie langsaan aangebring.  Aanvanklik was daar sowat 2 222 name, waarvan sowat 650 in gevegsituasies gesneuwel het, maar dit is aangevul deur navorsing en tans is sowat 2 580 name [1]daarop aangebring.

Die oprigting van hierdie muur is deel van ons ereskuld en kultuur van herinnering aan hulle, en veral ook aan hulle naasbestaandes, wat ons moes betaal.  Politiek stop of moet by die hek stop en omdraai!

Net as jy daar was, en jy die man, vrou, kind of kleinkinders met hulle kranse waargeneem het, sou jy sien dat hierdie muur ‘n moet was. Dit is mense se name wat op daardie muur is, ja van alle rasse. [2]

VRYHEIDSPARK SE GEDENKMUUR[3]

Waarom is hierdie name van die SAW-lede nie ook by die naamlyste by Vryheidspark gevoeg nie? Daar is klaarblyklik 75 000 geverifieerde name van diegene wat tydens agt konflikte in Suid-Afrika se geskiedenis gesterf het daarop aangebring, naamlik: die pre-koloniale oorloë, slawerny, volksmoorde, versetoorloë, die Angloboereoorlog[4], die Eerste Wêreldoorlog, die Tweede Wêreldoorlog en die “Struggle” om bevryding. Daar is plek vir sowat 120 000 name.

WAT GEBEUR AS SLAAPLOOSHEID EN ONVERDRAAGSAAMHEID IN DIE NAG ONTMOET?

Gedurende ongeveer 2008 het ek tydens een van my slaaplose nagte, terwyl ek na die Transworld Radio Network [5]se Afrika-gleuf om 3:30 geluister het, gehoor hoe dr.Mongane Wally Serote praat. Hy het as kurator van die Vryheidspark gepraat en oor die name op die muur by die S’khumbuto[6] area wat daar aangebring is. Daar is ‘n vraag aan hom gevra waarom en of die Suid-Afrikaanse Weermaglede se name nie ook daar aangebring is en of daarop aangebring gaan word nie. Sy antwoord het my regop laat sit, hy was onverdraagsaam ferm, toe hy gesê het dat geen “Boer” se naam op daardie muur aangebring sal word nie. 

Dit was in dieselfde tyd dat ek die boek van generaal Jannie Geldenhuys “Die wat gewen het – feite en fabels van die bosoorlog[7]” gelees het.[8]  Generaal Geldenhuys spreek ook die opinie uit dat die Angolese-oorlog ‘n beskeie bydrae gemaak het om die USSR se bankrotskap, saam met die ekskursie in Afghanistan, aan te help, wat tot die ineenstorting van die Sowjetunie bygedra het.  Dit is egter ‘n debat vir ‘n ander dag, maar agter in hierdie boek, het hy 613 name van SAW-soldate aangeteken wat in die Bosoorlog gesterf het. 

Na hierdie onverdraagsame houding van dr. MW Serote, het ek met die destydse voorsitter van die Erfenisstigting, mnr. Len Dekker [9]geskakel.  ‘n Kliënt, Philip Riekert[10], wat ‘n granietfabriek, Granite Slab Sales, gehad het en ek het met mekaar gesels om graniet te skenk om granietpanele te laat maak om moontlik hierdie name by die Erfenisterrein van die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument te laat aanbring. Mnr. Len Dekker het die gedagte aan generaal Gert Opperman deurgegee.  Na ‘n paar maande het ek weer navraag gedoen en generaal Opperman het met my geskakel. Daar was ‘n informele generale komitee wat , bestaan het uit onder andere generaals Constand Viljoen, Jannie Geldenhuys, Raymond Holtzhausen, Magnus Malan en Gert Opperman wat dit bespreek het.  Hulle het die gedagte positief oorweeg, maar generaal Constand Viljoen het gevoel dat hy nog ‘n slag met dr MW Serote wou gaan praat.  Hy het onverrigter sake teruggekeer.  Die besluit van die informele generale komitee was om al die persone wat in diens van die SAW vanaf Republiekwording in 1961 tot 27 April 1994 gesterf het, se name op die muur te laat aanbring[11].  Generaal Gert Opperman het die rekords nagegaan, want die weglating van name moes voorkom word. 

Aan die begin van Augustus 2009 het generaal Opperman en mnr Johan Els, die argitek, my op kantoor te Brits kom spreek.  Generaal Opperman het toe gemeld dat daar meer as 2 000 name van lede wat gedurende die betrokke tydperk aan diens gesterf het, is wat hulle op die panele wil laat aanbring, maar dat hy nog besig was met navorsing! Die verifiëring van die naamlys en om niemand uit te laat nie, het deeglikheid geverg.[12] 

Met die groter aantal name het ons nie ‘n probleem voorsien nie.  Aan die einde van Augustus is die planne deur generaal Oppermanby my kantoor laat afgee.  Ek was besig en stuur toe my klerk daarmee na mnr Philip Riekert se fabriek om dit persoonlik aan hom te besorg.  Na ‘n paar dae het ek navrae aan hom gerig en hy het nie na my teruggekom nie.  Na sowat ‘n week maak hy ‘n afspraak en kom sien my. Hy was effens gespanne en vra toe vir my of ek na die planne vooraf laat kyk het.  Nee, antwoord ek op daardie stadium, want ek was besig met verhore.  Hy het toe ‘n oomblik stilgebly en toe gesê dit is nie wat ons bedoel het nie: dit is ‘n volle Monument! ‘n Behoorlike Monument! Dit sou sy fabriek drie maande uit produksie haal om dit te kan voorberei, het hy gesê. 

Ek het toe met generaal Gert Opperman geskakel en hy het gesê hy het reeds aangekondig dat die muur op 25 Oktober 2009 onthul sou word! Dit was middel September!

Plan B was na beraadslaging met Philip in plek gestel.  Die ander granietgroewe en fabrieke in Brits, waarvan daar talle is, en waarvan baie my kliënte is, sou ek nader om te help.[13] Ek het ‘n verduidelikingskrywe met agtergrondinligting en die gedagte van die gedenkmuur saamgestel en die uitnodiging gerig om die volgende dag, ‘n Donderdagmiddag, 17 September 2009, om 14:00 by my te kom vergader.  Generaal Gert Opperman en die argitek sou ook die afspraak bywoon.  Generaal Gert Opperman was militêr stiptelik te vroeg vir die vergadering, maar het in die ontvangs gesit, toe ek deurstap na die konferensiekamer vol afgevaardigdes van die Manne van Graniet.  Dave Hyslop[14], Johan Fourie van Metrograniet, Klaus Mabler van Eagle Granite, Willie du Plessis van Cameleon Granite, Marinus Zwaan van Granite Slab Sales kon die vergadering bywoon en met vele ander beloftes. 

Die meriete vir die muur was nie op die agenda nie, want dit was vanselfsprekend: dit was kortliks in die skrywe verduidelik.  Dit het gehandel oor hoe, waar en wanneer.  Na sowat 10 minute het ek generaal Gert Opperman en mnr Johan Els ingeroep.  

Toe generaal Gert Opperman ingekom het, het ek inleidend opgemerk: Generaal wat ons voorgestel het en wat u wil hê, verteenwoordig nie eintlik ons bedoeling nie. Ek het ‘n oomblik stilgebly en toe gesê maar ons is vandag hier met hierdie Manne van Graniet om Plan B te bespreek.  Gelukkig dra ek ‘n donkerbril want ek onthou my oë was nat van die ongelooflike eenhartigheid met hierdie grootse projek.  Tydens die gesprek het ek as sameroeper stilgebly en die trane was baie naby want voor my oë het ‘n wonderwerk, ‘n ongelooflike ervaring, afgespeel.  Effektiwiteit, doelgerigtheid en ‘n aanvaarding dat die projek moontlik is, het gestalte gekry. 

Die argitek het voorgestel dat die grondbedekking met granietteëls gedoen moet word, maar tydens die vergadering is voorgestel en so aanvaar dat dit met granietkeistene, wat meer standhoudend is, bedek sou word.  Die keistene het pragtig uitgekom en dit is natuurlik baie duursamer.

Dave Hyslop het die projek as koördineerder aan die hand geneem.  Die granietpanele moes verkieslik uit een blok graniet kom, want die graniet moet dieselfde grein en kleur wees, want daar is baie variasies uit die verskillende groewe[15]. Die graniet het uiteindelik uit Pepeng[16] se groef gekom sodat die kleur dieselfde kon wees.  Die graniet is net ‘n dag of wat voordat Cameleon Granite hulle sae se groottes verander het, wat ‘n vertraging van 2 maande sou veroorsaak, gesaag. Johan Fourie van Metrograniet het die polering van die panele en sandstraling onderneem. Granite Slab Sales het ook met die polering en die voorbereiding van die panele gehelp.

Marinus Zwaan, wat vir Philip Riekert by Granite Slab Sales gewerk het, het die uitputtende en noukeurige letterwerk van die name se gravering gedoen: die vrees van ʼn virewigde spelfout het deurlopend oor sy skouer geloer, waarteen hy moes waak [17]By elkeen wat in ‘n geveg gesneuwel het se naam is ‘n sterretjie langsaan bygevoeg. Johan Els Vervoer het die vervoerwerk vanaf Brits na die Voortrekkermonument hanteer. [18]Die graniet, die sae, die polering, die aanbring van die name, die sandstraling, die vervoer na die Voortrekkermonument is alles gratis gedoen.

Wat die bouery en die voorbereiding van die perseel aangaan, het generaal Gert Opperman die verantwoordelikheid geneem en was daar verskeie skenkers van ver en wyd selfs van oorsee. 

So het onverdraagsaamheid hom teen graniet en die wil so hard soos graniet, gebots: generaal Gert Opperman het egter voortgegaan om versoening te probeer bewerkstellig en uiteindelik is die verbindingspad tussen hierdie Gedenkmuur en Vryheidspark gebou, sodat mens met een besoek beide kan besoek.

Die ereplig is onder die leiding van generaal Gert Opperman verder gevoer om die oorskot van die gesneuweldes, wat in die buiteland  begrawe is, te repatrieer[19]. Daar is drie addisionele gedenktekens by die Muur van Herinnering later opgerig, naamlik die bestaandes van 32 en 31/201 Bataljons, wat elders opgerig was, en ‘n nuwe een ter ere van diegene wat aan Operasie Savannah deelgeneem het. Voorts is daar later ‘n verdere Muur opgerig ter ere van die lede van Koevoet, asook enkele gedenkstene ter ere van sekere korpse in die omringende tuin. Verder is daar ook ‘n afsonderlike muur opgerig ter ere van alle lede van die Ou-SAW wat vir dapperheid gedekoreer is. Nog later is daar ook ‘n nismuur[20] opgerig waarin die as geplaas kon word van oud-SAW lede en hulle eggenotes.[21].

Dit is waarlik ‘n plek van herinnering.  Dit bring ‘n groter insig en ervaring van die Bosoorlog vir ‘n besoeker.

As jy my mag vra wat ek dink nog ontbreek, dan sal ek sê miskien ‘n beeldhouwerk wat, soos die aangrypende beeldhouwerke by die Vrouemonument in Bloemfontein, sekere gebeure simboliseer, uit te beeld.  Baie van die soldate is beseer, gestrem en moes met die posttraumatiese stres die lewe verder aandurf[22]. Dalk kan ‘n beeld, wat ʼn koue skouer van onverdraagsaamheid wat aan hierdie vergete lyers gegee is, uit ʼn nuwe stuk graniet gebeitel word. Miskien kan ‘n beeld die angs en spanning van ouers, sussies en boeties, wat tuis daagliks op die moontlike vrees van nuus voortgeleef het, uitgebeeld word, dat oorlog erg is en dat ons vrede moet koester. 

25 OKTOBER 2009: ONTHULLING

Die onthulling van die Gedenkmuur op 25 Oktober 2009 was ‘n eerbiedwaardige plegtige gebeurtenis:  die reëlings deur generaal Gert Opperman was met militêre presisie.  Soos dit hoort word die verrigtinge in gelyke mate sowel in Afrikaans as Engels aangebied en daarom word gratis professionele tolkdienste[23] gereël met gehoorstukke sodat die plegtige atmosfeer nie net na Engels verander nie.

Daar is stilte, net voor 10:00, en eensame voëlsang breek op wanneer die aankomende vliegtuig van ʼn verbyvlug die stilte stiptelik om 10:00 stukkend dreun. Klank en kleur van hulde word so uit die hemele in koue rillings afgestort[24] en die geleentheid verplegtig. Daar is min dinge wat “onthou” so aangryp as ʼn verbyvlug.

Die plegtigheid bestaan dan verder uit ‘n godsdiensoefening, die sing van die Landslied, en afgesluit met die laaste sinjaal voordat die kranse gelê word. Daar is geen plek vir toesprake nie.

Die honderde kranse, blomme, kruise ensovoorts, was ‘n skouspel van kleur. Die vroue, kinders en familie, vir wie dit daargestel is, het eerste hulle kranse gelê.  Daarna die generaals, die organisasies en laaste ou kamerade en ander mense.  Die Burger het berig dat een van die kinders van die gesneuweldes gesê het dat, toe sy haar vingers oor haar pa se naam gevryf het, dit vir haar meer beteken het as die graad wat sy onlangs behaal het.  Generaal Constand Viljoen het ook opgemerk dat dit noodsaaklik was vir die families om ook ‘n mate van afsluiting, hierdeur te kon hê.  In die buiteland word hierdie geleenthede belangrik geag, maar die SA-regering het aanvanklik koud gereageer,  maar gelukkig, veral ook deur generaal Gert Opperman se bemiddeling, het hulle dit ook begin bywoon. 

Elke jaar sedert 2009 word ‘n huldigingsgeleentheid op die Sondag wat die naaste aan 31 Mei val, daar gehou.  Die klimaat van dié dag is gewoonlik baie matig.  Ongelukkig het die Covid 19-inperkings daartoe gelei dat die herdenkingsdienste van 2020 en 2021 virtueel aangebied moes word, sonder om afbreek te doen aan die plegtigheid van die geleentheid.

Miskien is dit reg dat daar twee mure moes wees want die verlede het aan ‘n verbindingspad ontbreek.  Die twee plekke verteenwoordig kollektief die bipolariteit van Suid-Afrika want die hegemoniese eenheidkultuur maak ‘n onverteerbare potjiekos.  Miskien sal hierdie klein kooltjie op die herinneringsvuur u moed gee dat daar ‘n versweë herinneringsvuur smeul. Na die uitspraak van onverdraagsaamheid, wat ‘n optog van solidariteit veroorsaak het, het gelei tot ‘n muur van hoop en ‘n verbindingspad na die ander se verlede.

NADENKE OOR DIE BOSOORLOG

Ek luister na die soms magtelose uitroep dat die Grensoorlog tevergeefs was: ek is van mening dat dit nie tevergeefs was nie: benewens die rol wat die oorlog in die Sowjetunie se begroting geruk het, is die nalatenskap ‘n ryke kultuurerfenis waaruit ons en opvolgende geslagte verrykend kan put.  Die helde, die dade vir ons is eintlik groots en bied ‘n bron vir hoër kultuurvorming. Wat sê die kenner? Was die Bosoorlog nie sement om “die twee wit rasse” soos genl. JBM Hertzog die Engelse en Afrikaners beskryf het, te verenig nie? Het dit dalk die Afrikaners en ander blankes oorlogtam gemaak sodat daar ʼn vreedsame oorgang in 1994 in Suid-Afrika kon plaasvind?

Oorlog is ʼn historiese menslike gebeure en uiteindelik met tyd verskiet dit in die niet van die toekoms, nie waar nie? Ons staan nog te naby aan en in die skadu van ʼn wyehoeklens-perspektief. Kritiese ontledingsdenke is meestal die luukse van die opvolgende geslagte. Die oorlog is immers verby en kuns, boeke, toneelstukke ensovoorts wat ons geskiedenis verhaal, vul ons toekoms.  Vandag se bril pas nie op gister se oë nie en beperkte visie van toe hoef nie ons vandag se neem van die positiewe te bewasem nie.  Die verpligting van ons geslag is om die reële gebeure deur ooggetuies te laat aanteken anders sal die beoordelaars van later onvolledige feite hê om te beoordeel. Dalk behoort elke oudweermaglid en dié se familie, hulle persoonlike ervarings van die Bosoorlog aan te teken,[25] sodat die toekomstige geslagte argiefmateriaal en bronne sal hê om te ontgin en nie net die weergawe van die huidige politieke elite hê nie. Die “ignorering” van hierdie tydvak van die Bosoorlog in ons tyd sal slegs daarmee korrek verstaan kan word.

Daar is verskillende standpunte oor die Bosoorlog. My pleidooi is dat beskaafde denke ewewigtige krities beredeneerde gesprekke oor die verlede vereis:  ‘n nie afgeslote “beredeneerde, beskaafde, diskonsensus” oor die geskiedenis, en hier verwys ek spesifiek na die Bosoorlog, is nie alleen waardevol nie maar dwingend noodsaaklik om diversiteit te akkommodeer en vrede te bevorder, ten einde beskaafd, respekgewend daaroor te besin. Hierdie herinneringsmuur is dus deel van ʼn voort gesette herinneringskultuur wat ons moet uitbou en koester.

CERNEELS LOURENS Lourens Prokureurs lourensprokureurs@worldonline.co.za


[1] Elkeen se lewe is ’n verkorte verhaal.

[2] Vir die politiek-korrektes en ras-beheptes, voordat jy ’n oordeel vel, besoek die muur en tel die name en sien dan dit is van alle menserasse en swyg dan verder in eerbied.

[3]https://www.up.ac.za/media/shared/Legacy/sitefiles/file/44/1026/2163/8121/innovate5/freedomparksouthafricasflagshipheritageprecinct.pdf

[4] Die term “Suid-Afrikaanse oorlog” word soms gebruik maar dit is ’n ideologiese term wat weens druk van die Engels-gedomineerde wêreld gebruik word om die oorlogsmisdade op vroue en kinders te verdoesel deur kolaterale betrokkenes en getroffenes die hoof akteurs te maak en nêrens anders word dit gedoen nie. Dit is dus histories onakkuraat.

[5] Tans op die DSTV-kanaal 854

[6] S’khumbuto getuig van die verskillende konflikte wat die land gevorm het en herdenk diegene wat hul lewens vir die mensdom en vryheid opgeoffer het. Die konsep van S’khumbuto is ontleen aan die siSwati-benaming en is ‘n plek van herinnering aan diegene wat gesterf het en ook ‘n plek om hul hulp in die huidige en toekomstige sake op te roep. S’khumbuto is nie bedoel as ‘n plek van hartseer en rou nie, maar van viering. Dit is ‘n huldeblyk aan die waardigheid van Afrika en van menswaardigheid.

[7] Hierdie boek, wat hy weer in daardie tyd laat herdruk het, sonder ‘n enkele verandering behalwe die epiloog, wat hy in ongeveer 1993 vir die eerste keer gepubliseer het, gee ‘n oorsig van die Bosoorlog. Dit verduidelik ook dat die SAW nie by Cuito Cuanavale “verloor” het soos die ANC/Kubaanse propaganda dit uitbasuin nie. (In hierdie verband kan dr Leopold Scholtz se onlangse boek “The SADF and Cuito Cuanavale: A Tactical and Strategic Analysis” ook geraadpleeg word). 

[8] Hierdie boek behoort na Russies, Spaans, Portugees  en ander tale ook vertaal te word.

[9] Hy was saam met my by die VRA betrokke.

[10] Graniet word natuurlik wêreldwyd gebruik om die herinnering tot in die verre toekoms te laat voortleef.

[11] So is die naam van die brigadier in die premiers-stoet van die Republiek fees van 1966, wat weens ’n hartaanval gesterf het op die lys:  Maar daar is nie plek vir die wat hulle selfgedood het nie…

[12] So het hy vertel dat hy in die nagaan-proses op twee persone met dieselfde van, wat op dieselfde dag gesneuwel het, afgekom.  Dit het gelyk op ‘n fout, maar die mag-nommers was verskillend.  Dit het toe geblyk ‘n tweeling te gewees het, wat in dieselfde voertuig was en wat in dieselfde aanval daarop gesterf het. Toe die kapelaan by die moeder, wat in haar tuin besig was, aangekom het, het die perslapel die boodskap reeds aangekondig, en sy opgekyk en gevra: watter een van die twee? Hy het geantwoord: altwee mevrou.  Sy het stilgebly en toe gesê: Dit is soos hulle dit sou wou gehad het. Daarna is die direktief blykbaar uitgereik dat kinders van dieselfde gesin nie in dieselfde eenheid diens mag doen nie.

[13] Hulle het my ook bietjie geskuld want ek het hulle in 2000 en daarna met Chris Louw van “Boetman is die bliksem in”- faam, wat die Monitor-program hanteer het, wat ons moeilikheid gegee het oor bewerings van onwettige granietmynery, en die bekwame wyle Johan Botha  van 50/50, het amper deur middel van die Departement van Minerale en Energie die granietbedryf in Brits gestop, maar in my einste konferensiekamer is hy oortuig dat die bewerings ongegrond was.

[14] ‘n Gebore Engelsman wat in die Army, soos hy altyd sê, Afrikaans geleer het, en op ‘n stadium die onder bestuurshoof van die grootste graniet-maatskappy in die land was.

[15] Kleurverskille op die panele met name wat later toegevoeg is, illustreer mooi dat granietriwwe soos mense verskil.

[16] ’n Groef naby die Gelukdam.

[17] Die paneel se bewoording word op viniel uitgesny waarna die vinielstensil op die paneel geplak word. Elke letter word dan individueel uitgehaal waarna dit gesandstraal word en laastens word dit met silwer sproeiverf gespuit voor die oorblywende vinielstensil afgehaal word.Gedurende die hele proses moet daar heeltyd gekontroleer word dat geen spelfoute gemaak is nie want sodra die sandstraling gedoen is, kan dit nie verander word nie, aangesien die hele paneel weer gepoleer sal moet word indien die fout later opgespoor word.

[18] Van die ander Manne van Graniet van Brits, soos *Jackie van Vuuren, het die grafsteentjies vir Moordrif by Potgietersrus later geskenk, *Japus Vervoer het dit gratis vanaf Brits daarheen vervoer, *Louis Coetzee van Gran Rock het die Winburgmonument se panele en *Piet Botes van Ernstcor Granite het later nog ander graniet vir die Gedenkmuur gereël.  

[19] Die Ebo Trust is ‘n private trust, gestig in 2007 onder voorsitterskap van generaal-majoor (afgetrede) Gert Opperman, met die volgende doelstellings, naamlik: a. Om die stoflike oorskot van lede van die ou SAW, wat in gevegte omgekom het en op vreemde grond begrawe is, op te gegrawe en te repatrieer; en b. Om herdenkingsgeleenthede ter verering vir die dapper Suid-Afrikaanse soldate, wat alles vir hulle land opgeoffer het, te reël in sover as moontlik te finansier; en c. om militêre veterane en hulle afhanklikes by te staan ​​wat steeds die gevolge van oorlog ervaar en wat bystand behoef. (Die Trust ontvang geen finansiële hulp van die Suid-Afrikaanse regering nie en moet alle fondse uit die private sektor insamel.)

[20] Al die nisse in hierdie muur is reeds uitverkoop.

[21] Blykbaar was daar ’n gevoel by generaal Opperman se opvolger as Besturende Direkteur  van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting  dat die terrein van die Voortrekkermonument “gemilitariseer” word, waarmee ek nie saamstem nie, aangesien dit groter konteks gee.

[22] Jongmanne het teruggekeer met ou koppe en voortydige middeljare, soos die skrywer Philip Caputo in “Rumours of war” oor die terugkerendes na die Vietnamoorlog dit gestel het.

[23] Johan Blaauw van NWU

[24] ʼn Privaat gerestoureerde vliegtuig, op koste van die eienaar, want die Lugmag ondersteun nie die geleentheid amptelik nie.

[25] Na ‘n honderd plus twintig jare wonder ek hoekom my oupa-hulle en my ouma in die konsentrasiekamp nie meer aantekeninge gemaak het nie. 

Oorspronklike teks asook fotos ontvang vanaf, en toestemming verleen deur Cerneels Lourens. Artikel het oorspronklik verskyn op Maroela Media.
SAW SOLDATE GEDENKMUUR deur Cerneels Lourens
Scroll to top